Goeiedag en baie welkom by die Pietersburg Hoërskool (PHS) alumni klub. Hierdie klub is spesifiek vir oud-leerders wat in die verlede deel was van ons trotse skoolgemeenskap. Ons wil graag ‘n platform bied vir oud-leerders om weer in verbinding te kom met hul voormalige klasmaats en onderwysers, sowel as om ‘n netwerk te skep wat van waarde kan wees vir almal. Ons is trots op die prestasies van ons alumni en ons wil graag die verbintenis tussen PHS en ons oud-leerders versterk. Ons nooi u uit om deel te word van hierdie gemeenskap en saam met ons die herinneringe en suksesse van die verlede te vier.

Welkom aan oud en nuwe Pieties
Wie is die Pietiebond
In 2021 is die Pietiebond geregistreer as ‘n nie-winsgewende maatskappy. Die maatskappy se doelstellings is duidelik gedefinieer en sal hoofsaaklik gerig wees op infrastruktuur projekte. Dit is nie die bedoeling dat die Pietiebond enige bydrae tot die dag-tot-dag bestuur van PHS sal lewer nie. Soortgelyke inisiatiewe is wêreldwyd algemeen, veral in gevestigde skole met ‘n ryk tradisie. Ons beoog om ‘n geleentheid te skep vir oud-leerders en die Bosveld-gemeenskap om terug te gee aan ‘n skool wat steeds as een van die beste openbare skole in ons land beskou word.
Klub 100 Projek
Sluit gerus aan by ons Klub 100.
Ons neem hiermee die vrymoedigheid om jou uit te nooi om te belê in die toekoms van PHS. Met dié projek hoop ons om op die langtermyn ‘n groot verskil te kan maak en om sodoende te verseker dat PHS sy plek bly volstaan in die nuwe eeu . Die gedagte is om soveel as moontlik oud-Pieties en gemeenskapslede te mobiliseer om ‘n klein bedrag maandeliks in PHS te belê.
Bankbesonderhede:
Naam : Pietiebond NPC
Bank : FNB
Rekeningnommer : 62925782452
Ons wil graag ‘n databasis van skenkers byhou om ons in staat te stel om julle op hoogte te hou van projekte, geleenthede en die datum van die Pietiebond se Algemene jaarvergadering.
Pietiebond Nuus
Hartlike groete aan elke oud-Pietie, ons hoop die brief bereik al die uithoeke van die wêreld waar oud-Pieties hul merk maak, en dien as herinnering aan ons gemeenskaplike wortels in die noorde van die ou Transvaal.
Eerstens ‘n uitnodiging om PHS se webblad te besoek vir ‘n kykie na ons splinternuwe alumni-blad. En, jip ons weet: Hoekom nou eers? Die antwoord is ‘n raaisel. In ‘n e-pos aan die skool baie jare terug, bied ‘n oud-hoofmeisie aan dat hul jaargroep, as deel van ‘n reünie, so ‘n blad aan die skool wil skenk. Hoekom dit nie gerealiseer het nie weet ons nie, maar hier is hy nou! Ons glo die blad sal groei tot iets besonders en ons verwelkom enige voorstelle en insette.
Sedert 2002 word daar jaarliks twee oud-Pieties verkies tot “Pietie van die jaar”. Elkeen van hulle se foto pryk op die blad, maar ons kort ‘n paar van hulle stories (oorkondes). Die foto’s is geraam en word vertoon teen ‘n gedenkmuur in die skool se administratiewe gebou, maar die oorkondes word aan die kandidate (of hul familie, in die geval van postuum-toekennings) oorhandig. Indien iemand ons kan help om dit op te spoor sal dit waardeer word. Enige inligting oor potensiële toekomstige kandidate sal vir ons ook baie waardevol wees. Alhoewel daar nog nie definitiewe kriteria saamgestel is nie sal ons enige voorstelle verwelkom en oorweeg. U kan gerus vir ons ‘n e-pos stuur na oudpieties@pieties.co.za. Daar is waarskynlik talle oud-Pieties wat veral in die buiteland groot hoogtes bereik sonder dat die nuus in Pietersburg uitkom.
As uitvloeisel van bogenoemde projek is ons tans besig om ‘n lys saam te stel van al die onderwysers wat 30 of meer jare aan PHS verbonde was. Die idee is om hul name dan op die blad te plaas en ‘n gedenkmuur by die skool op te rig. ‘n Tweede en veel meer uitdagende fase sal wees om ook elkeen van hul stories en nalatenskap na te vors.
Die webblad het ‘n afdeling waar inligting ten opsigte van reünies gedeel kan word en is ook ‘n ideale plek om foto’s te deel van sulke geleenthede. Stuur asseblief aan!
Ons doel as Pietiebond is om vir die skool van waarde te wees en om julle deur middel van die webblad ingelig te hou. Ons het tans net meer as 1200 leerlinge (kan maar net nie gewoond raak aan die byderwetse “leerders” nie), is steeds trots Afrikaans en het die voorreg van die gebruik van ‘n skoolterrein wat danksy tyd en liefde, nie sy gelyke ken nie. Ons het dan ook pas ‘n 330 kVa kragopwekker geïnstalleer as korttermyn oplossing vir die elektrisiteitskrisis om onderrig van hoogstaande gehalte te verseker. Die brandstofpryse maak dit egter onvolhoubaar as langtermyn oplossing. Die plan is om te kyk na sonkrag, maar die aanvanklike kapitale uitleg is indrukwekkend, dus is ons nog ietwat onseker oor die finansiering- en bedryfsmodel. Dit wil ook lyk of daar min maatskappye is wat sulke groot projekte aanpak. Weereens, ons sal sinvolle voorstelle verwelkom en oorweeg! U kan gerus vir ons ‘n e-pos stuur na oudpieties@pieties.co.za.
Die skool vra van tyd tot tyd oud-Pieties om by funksies op te tree, en die vraag wat ons dikwels hoor is: Hoe kan ons betrokke raak of ‘n verskil maak? Ons is steeds ‘n dinamiese gemeenskap met meer as genoeg kundigheid en toewyding om die werk te doen. Ons is baie dankbaar dat die kultuur van betrokkenheid en moue oprol steeds deel is van ons ouergemeenskap. As jy egter ver is, maar die skool( en wat dit vir elkeen van ons beteken het) lê jou na aan die hart, oorweeg dit om deel te word van PHS Klub 100. Inligting hieroor is op die webblad beskikbaar.
Op 15 April bied ons die Bosveld-Intervarsity aan- die ou tweestryd met die Tommies is nog springlewendig. Ons is van plan om van die geleentheid gebruik te maak om na afloop van die hoofwedstryd saam te kuier en sal binnekort meer inligting hieroor gee.
Mens wonder wat ‘n Tom Boshoff of Robert Peacock sou sê as hulle die skoollandskap van vandag moes betree. Die uitdagings is enorm en plaaslik is die sentiment jeens skole soos PHS, sal mens sê, nie ideaal nie. Maar op hierdie stadium definieer PHS ‘n hele gemeenskap, die skool is wat ons bymekaar hou, en dit bied steeds ‘n uitstekende platform vir ons jongmense om ‘n sukses van hul lewens te maak. Ons plan is om dit so te hou.
Bosveldgroete
De Klerk Roos
Pietiebond
Oud-Pieties is Wêreldbekerkampioene.
PHS is bevoorreg om twee oud-Pieties in die kampioen Springbokgroep vir 2023 te hê.
Baie geluk aan Deon Fourie (Klas van 2004) wat tydens die wereldbeker skitterende rugby gespeel het.
Verder is Eugene Henning (onderhoofseun 1995) ook deel van die bestuurspan van die Bokke.
PHS is trots op julle en dit wat julle vermag het.

Matrieks van 2013 hou reünie.
Die matriekgroep van 2013 het vanjaar hul 10 jaar reünie gehou hier in PHS se eie matriekblok.
Die groep het tydens die aand saam hul oud-hoof, Mnr Willie Schoeman, en van die oud-onderwysers van die jaargroep gekuier. Dis lekker om te sien dat daar soveel van die oud-Pieties is wat steeds tyd maak vir mekaar.

Matrieks van 1963 kuier steeds saam.
Die matriekgroep van 1963 het onlangs hul 60 jaar reünie gevier by Weesgerus Vakansieoord buite Nylstroom.
Baie dankie aan 1963 se hoofseun, Hein Markotter, vir die deel van hierdie kosbare oud-Pietie oomblikke.

OUD-PIETIE NUUS EN GEBEURE
Deel jou suksesse met ons en mede oud-Pieties en bly op hoogte van ander se doen en late na skool.
Ons wil graag hoor van jou nuus en gebeure na skool, stuur vir ons ‘n epos na oudpieties@pieties.co.za

Aand van die sterre
“Aand van die Sterre” is ‘n jaarlikse gala geleentheid wat deur Hoërskool Pietersburg en die Pietiebond aangebied word. Hierdie aand is spesiaal bedoel om oud-leerders van PHS te eer en hul prestasies te vier. Dit is ‘n geleentheid waar oud-leerders en hul gaste die geleentheid kry om saam te kom en die herinneringe van die verlede te deel, asook om hul suksesse in die huidige tyd te vier. Die aand is ‘n hoogtepunt op die PHS alumni kalender en ons sien daarna uit om al ons oud-leerders te verwelkom om hierdie spesiale geleentheid saam met ons te vier.
Wanneer is die volgende Aand van die sterre
‘n Paar bekende oud-Pieties wat herdenk is

Dr. Frederik Van Zyl Slabbert
(1954 – 1958)
Politikus, Filosoof, Sakeman en Akademikus, Universiteit van Stellenbosh
Oudleerling van die Hoërskool Pietersburg vir uitstaande diens gelewer op ‘n verskeidenheid terreine van die Suid-Afrikaanse gemeenskap met spesifieke verwysing na:
- Versoenende rolvertolking in die politieke, ekonomiese en maatskaplike bestel van Suid-Afrika;
- Konsensus soekende oplossings in die oorgang na ‘n nuwe demokratiese bedeling;
- Bevordering van die goeie beeld en belange van Suid-Afrika en sy mense op internasionale gebied; en
- Inspirerende en positiewe lewensuitkyk en —ingesteldheid jeens die toekoms van Suid-Afrika en sy mense
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerlinge van Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 22 Augustus 2003 te Hoërskool Pietersburg.

Victor Matfield
(1991 – 1995)
Springbok-rugbykaptein wêreldbekerwenners 2007
Wat hom op skool-, provinsiale-, nasionale- en internasionale rugbyvelde bewys het en steeds bewys as ‘n rugbyspeler, sportman en leier van formaat.
Hiermee word erkenning gegee aan ‘n uitsonderlike oudleerling van Hoërskool Pietersburg vir die volgende rugbyprestasies:
- Verteenwoordiging op skoolvlak in die eerste span van Hoërskool Pietersburg, die Verre Noord Cravenweekspan, die Transvaal Bonde- en die SA Akademiespan;
- Verteenwoordiging in die Blou Bulle o/21- en SA 0/21-spanne;
• Verteenwoordiging in die Griekwaspan;
• Verteenwoordiging in die Blou Bullespan;
• Verteenwoordiging in die Super 12-spanne van die Cats en die Bulls;
• Verteenwoordiging in die Springbokrugbyspan met 30 toetswedstryde tot op datum; - Kaptein van die volgende spanne: SA o/23-span, Springbokweekspan, Blou Bulle, Griekwas en die Bulls.
Mag hierdie toekenning aan Victor Matfield dien as verdere inspirasie en aansporing om steeds uitvoering te gee aan die leuse van sy Alma Mater: Per Aspera Ad Astra – Reik na die sterre.
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerlinge van Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 28 Augustus 2004 te Hoërskool Pietersburg.

Carla Pohl
(1953 – 1957)
Internasionaal bekende kunstenaar (Opera)

Pieter Pieterse
(1950 – 1954) Postuum
Bekroonde skrywer

Dr. Tom Boshoff
(1957 – 1975)
Grondlegger van die “Nuwe” Hoërskool Pietersburg en Gemeenskapsleier
Wat op 1 Januarie 1957 hoof van PHS geword het, op 17 September 1958 die nuwe skoolterrein onder sy leiding betrek het en in 1975 na 18 jaar as skoolhoof afgetree het.
Hiermee word erkenning gegee aan dr Boshoff, wat deur die destydse Direkteur van Onderwys, dr AL Kotze, beskryf is as een van die bekwaamste hoërskoolhoofde in die destydse Transvaal, se bekwame leiding en fenomenale organisasievermoë om PHS uit te brei tot ‘n instansie wat nie alleen in die provinsie onder die top skole gereken is nie, maar wel ook landswyd.
Onder sy bekwame leiding is die skoolterrein, wat beskryf is as “een lang afdraande van die hospitaal na die tronk”, tot die huidige prag terrein omskep. Voorts is die rugbyveld in gebruik geneem, Voorwaartskoshuis betrek, die atletiekbaan ingerig, die swembad geopen, die sportpawiljoene met sitplek vir 3 000 mense opgerig en vier korfbalbane in gebruik geneem.
Sy eindelose inisiatiewe het tot gevolg gehad dat eertydse hooggeplaastes soos pres C.R Swart en dr H.F Verwoerd PHS by geleenthede besoek het. As getroue patriotiese burger bied hy ook met groot sukses die 1961 en 1971 Republiekfeesvieringe aan, laasgenoemde wat deur 10 000 mense bygewoon is.
Benewens sy skoolbetrokkenheid was hy ook ‘n gemeenskapsleier par excellence wat vir dekades lank as stadsraadslid gedien het en ‘n geweldige rol in die ontwikkeling van die destydse Pietersburg gespeel het. Sy rol in munisipale aangeleenthede was weergaloos en verskeie streeksverenigings is onder sy bekwame leierskap gestig om die belange van alle provinsiale inwoners op nasionale vlak op die hart te dra.
In landboukringe was hy ‘n gerekende boer en sy Bonsmara-stoetery, bekend as Keur Bonsmaras, het talle veilings keer op keer met die louere weggestap.
Met hierdie toekenning word hulde gebring aan die man Tom Boshoff wat in die geskiedenisboeke opgeteken staan as ‘n groot gees in die Noorde.
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerlinge van Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 26 Augustus 2006 te Hoërskool Pietersburg,

Robert Peacock
(1976 – 1998) Postuum
Uitstaande onderwys-administrateur en skoolhoof
Wat hom onderskei het as pedagoog, leermeester, kollega en vriend by uitstek, verbonde aan die Hoërskool Pietersburg vir ‘n tydperk van 37 jaar waarvan 23 jaar en ses maande in die hoedanigheid as hoof.
Hiermee word erkenning gegee aan ‘n uitsonderlike man en onderwyser wat as vakanan met deernis, waardering en motivering sy beste vir leerders gegee het, die beste terug verwag het en hom met uitsonderlike organisatoriese- en bestuursvermoëns onderskei het as ‘n leier by uitstek.
In die geskiedenisboeke word die volgende eienskappe opgeteken wat monumentele nagelaat word as voorbeeld en inspirasie vir die leerder- en ouergemeenskap van PHS, die onderwysgemeenskap in die breë in Limpopo en vir geslagte wat DV nog volg:
* Sy toewyding, betrokkenheid, meelewing, empatie en begrip;
* Goedgesindheid, lojaliteit en opregtheid;
* Beginsels wat nooit prysgegee is nie;
* Persoonlike eer wat nooit ‘n rol gespeel het nie;
* Die saak wat voortdurend gedien is;
* Die bereidheid om te gee, baie keer ten koste van homself
Die bede van Robert Peacock tydens sy afskeid boodskap as hoof van die skool op 14 November 1997 sal ons altyd bybly, naamlik:
* Dat daar steeds voortgebou en uitgebou word op die trotse en ryke tradisie van die verlede;
* Dat PHS hom aan sy eie norme en standaarde sal meet, 500s oor die jare heen bepaal;
* Dat beginsels nooit op die altaar geplaas sal word nie;
* Dat PHS die toets van die tyd sal deurstaan.
Met hierdie toekenning word hulde gebring aan die nagedagtenis van Robert Peacock.
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerlinge van Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 26 Augustus 2006 te Hoërskool Pietersburg.

Prof. Fritz Eloff
(1933 – 1936)
Internasionaal erkende rugbyadministrateur en akademikus, Universiteit van Pretoria
Professor FC (Fritz) Eloff wat in 1936 aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer het.
Hiermee word erkenning gegee aan prof. Eloff wat in 1946 sy BSc-graad aan die Universiteit van Pretoria cum laude geslaag het en sy roemryke loopbaan in Dierkunde, wat in 1940 ‘n aanvang geneem het, met groot sukses vir ‘n periode van 31 jaar, vanaf 1954 tot 1985, as professor en hoof van die Departement Dierkunde aan die Universiteit van Pretoria afgesluit het.
Prof Eloff het aan velerlei vakkundige aktiwiteite deel gehad waaronder voorsitterskap vir 15 jaar van die Nasionale Parkeraad en 28 jaar van die Raad van Kuratore van die Transvaal Museum.
Talle wetenskaplike en populêr-wetenskaplike artikels oor embriologie, ekologie, dieregedrag en natuurbewaring het uit sy pen verskyn. Elf toekennings en eerbewyse op die hoogste vlak is sedert 1950 tot 2002 aan prof Eloff toegeken waarvan twee hier vermeld word: In 1987 die Staatspresidenttoekenning: Orde vir Voortreflike Diens: Klas 1:Goud en in 1988 die Staatspresident se Sportmerietetoekenning.
Hy was ook lid van verskeie advies-, wetenskaplike- en beheerrade, ‘n erelid van die Endangered Wildlife Trust en erekonsultant van die Cat Specialist Group of the International Union for the Conservation of Nature.
Prof Eloff was ‘n puik sportman en het uitgeblink in boks en gedurende sy universiteitsjare selfs die kroon as swaargewigkampioen van die Universiteit van Pretoria gedra. Hierbenewens was hy ‘n rugbyspeler en sportster van formaat waarvan die 12 jaar-deelname aan verskeie universiteitspanne en ‘n provinsiale span as kaptein getuig.
Sy administratiewe vaardighede vergestalt in verskeie ampte wat hy vir bykans dertig jaar beklee het waaronder President van die Noord-Transvaal Rugby-unie (1965 – 1991), Adjunkpresident van die SA Rugbyraad (1977-1992), lid van die Internasionale Rugbyraad (1977-1995), Voorsitter van die Internasionale Rugbyraad (1989-1990) en Medepresident van SARVU.
Prof Eloff is ‘n ere-lewenslange lid van die Noord-Transvaalse Rugby-unie, die Rugbyklub van die Universiteit van Pretoria en van SA Rugby.
Sy stokperdjies is fotografie en natuurbewaring.
Met hierdie oorkonde word hulde gebring aan prof Fritz Eloff vir sy onuitwisbare bydraes in die Suid-Afrikaanse gemeenskap oor ‘n breë spektrum.
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van die Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 23 Augustus 2007.

Prof. Jan Duvenage
(1948 – 1952) Postuum
Internasionaal erkende Kaak- en monchirurg, Universiteit van Pretoria

Lyndon Ferns
(1997 – 2001)
Olimpiese Swemkampioen 2004
Wat in 2001 as onderhoofseun aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer het.
Lyndon se prestasies, lewensbeskouing en nederigheid dien as ‘n uitnemende voorbeeld vir oud en jonk, wat sy loopbaan met arendsoë en groot verwagting volg.
Hiermee word erkenning gegee aan een van Suid-Afrika se jong helde, in die uiters kompeterende en veeleisende sport van swem op nasionale en internasionale vlak.
Reeds op 18-jarige ouderdom behaal hy nasionale en internasionale sukses, onderskeidelik met sy verowering van die SA-senior titel in die 100m vlinderslag en die wen van ‘n silwermedalje in die 4 x 100m vryslag aflos by die Statebondspele in Manchester, Engeland.
In Desember 2003 word hy die eerste man in Afrika en die tweede jongste swemmer ooit in wêreldgeskiedenis toe hy die SA-en Afrikarekord in die 100m vryslag verbeter het, in ‘n tyd van onder 49 sekondes. Die “All American Honours”, wat toegeken word aan die 8 beste swemmers in die VSA, val Lyndon te beurt vir vier agtereenvolgende jare – vanaf 2003 – 2006.
Olimpiese roem realiseer in Augustus 2004 met die Olimpiese Spele in Athene, Griekeland, met die verowering van ‘n goue medalje en die verbetering van die wêreldrekord in 4x100m vryslag aflos. By die Statebondspele in Maart 2006 in Australië, is Lyndon weer deel van die SA-span wat goud verower in die 4x100m vryslag aflos.
In Julie 2006 en later weer in Desember verbeter Lyndon die SA- en Afrikarekord in die 100m vlinderslag. Met sy vierde plek by die Wêreldkampioenskappe in Maart 2007, verbeter Lyndon weer sy eie rekord. Met die prestasie word hy die eerste man in Afrika en die elfde man ooit in die geskiedenis, om die 100m vlinderslag onder 52 sekondes af te lê.
In April 2008 kwalifiseer Lyndon vir sy tweede Olimpiese Spele deur die 100m vlinderslag en 100m vryslag by die SA-proewe te wen. Hy is ook die enigste atleet in SA om A – kwalifiserende tye vir die Olimpiese Spele in Beijing te behaal in drie individuele items: die 50m vryslag, die 100m vryslag en die 100m vlinderslag. Hy is ook deel van die 4x100m vryslag aflos en 4x100m wisselslag aflos by die Spele.
Lyndon is tans die Afrika-rekordhouer in die 100m vlinderslag, die 4x100m vryslag-aflos, die 4x100m wisselslag aflos en die 4x50m vryslag aflos.
Met hierdie oorkonde word erkenning gegee aan Lyndon Ferns se uitnemende sportprestasies en dien dit ook as inspirasie om hom te motiveer tot ‘n lang en suksesvolle loopbaan en lewe.
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerlinge van die Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 29 Augustus 2008.

Prof. Daan Booysen
(1948 – 1952) Postuum
Dekaan fakulteit teologie Universiteit van die Noorde

Marthinus Van Schalkwyk
(1973 – 1977)
Kabinetsminister en Ambassadeur in Griekeland

Genl. Johan Coetzee
(1956 – 1960) Postuum
Generaal SANW en Militêre Attaché

Jannie Moolman
(1965 – 1969)
Suksesvolle Sakeman besturende direkteur Moolman Groep

Prof. CFB Hofmeyr
(1929 – 1932) Postuum
Dekaan fakulteit veeartsenykunde Universiteit van Pretoria

Prof. Carl Franz
(1941 – 1945)
Internasionaal Erkende Chirurg, Universiteit van Pretoria
PHS se baanbreker onderwyser
Hiermee word erkenning gegee aan Gottfried Franz, Hoërskool Pietersburg se heel eerste onderwyser wat die hoogste sport in die Onderwys as beroep behaal het. Hy het hom ook later as veelsydige skrywer onderskei.
Gottfreid Franz het in 1919 as onderwyser aan TUKS (Transvaalse Universiteits Kollege) gekwalifiseer. Hy behaal sy BA-graad met Engels, Nederlands, Grieks, Latyn, Sielkunde en Logika as vakke.
Na die totstandkoming van die Hoërskool Pietersburg in Junie 1921, is hy as die eerste en enigste onderwyser aangestel. Hy het feitlik elke vak aangebied en het hom ook onderskei as ‘n goeie sportafrigter veral in rugby.
Gottfried Franz se bekwaamheid as onderwyser lei voorts daartoe dat by aan die einde van 1926, op ‘n jeugdige ouderdom aangestel word as Inspekteur van Onderwys in die Vrystaat. In 1930 word by deur die ou Transvaalse Onderwysdepartement aangestel as Inspekteur van Naturelle Onderwys. Teen 1947 was by Hoofinspekteur van Naturelle Onderwys en in 1953 is by aangestel as Streekdirekteur, van Swart Onderwys in Transvaal.
Erkenning is ook later aan hom verleen toe die GH Franz Hoërskool in Bochum na hom vernoem is.
Mnr GH Franz was ook ‘n veelsydige en vrugbare skrywer. Hy het meer as 20 boeke gepubliseer. Die uitmuntendheid van sy bydrae lê veral daarin dat by in vier tale kon skryf: Engels, Afrikaans, Duits en Sotho. In Sotho het Franz in al drie vorms van die taal, d.w.s. Noord-Sotho, Suid-Sotho en Tswana werke gepubliseer.
Van sy bekendste werke was Moloisi, die Wyse (1942), Kobus (1956), Twee Wêrelde (1957) en vele ander.
GH Franz se positiewe invloed, liefde vir boeke, gesonde lewensuitkyk en begrip van die komplekse en noodsaaklike verhouding tussen swart en wit moes ‘n groot invloed op die leerlinge van PHS gehad het.
Met hierdie oorkonde word erkenning gegee aan mnr. G.H. Franz wat as PHS se baanbreker onderwyser diep spore in onderwysberoep sou trap.
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van die Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 28 Augustus 2015, te Hoërskool Pietersburg.

Gideon de Wet
(1934 – 1964) Postuum
Leerkrag, Uitsonderlike Rugbyafrigter en Gemeenskapsleier

Prof. Pierre Volschenk
(1939 – 1943)
Uitstaande Kunstenaar en skilder, Universiteit van Wes-Kaapland
PHS se Formidabele Kunstenaar
* Pierre Volschenk is op 1 Mei 1926 naby Paardeberg in Mpumalanga gebore.
* Nadat hy in 1943 aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer het gaan bekwaam hy hom as onderwyser.
* Hy studeer aan die Onderwyskollege- en Universiteit van Pretoria en behaal sy MA( BK) en PhD. Hy word die eerste student om die MA (BK) in Suid-Afrika te verwerf.
* Pierre Volschenk maak sy merk as onderwyser by sy alma mater gedurende die jare 1959 en 1960.
* Deur toewyding en harde werk word hy bevorder tot Senior Inspekteur van Onderwys (Spesiale vakke) en later tot Professor en hoof van die fakulteit Beeldende Kunste aan die Universiteit van Durban-Westville tot met sy aftrede in 1986
* As kunstenaar het hy verskillende vakdissiplines bemeester nl: pottebakkery, skilderkuns in olie- en waterverf, ontwerp en beeldhoukuns.
* Opdragte wat hy moes uitvoer behels o.a. die volgende:
- Borsbeelde van Anna-Neethling Pohl en Uys Krige vir die Nasionale Letterkundige Museum.
- Die bekende beeld van Danie Craven en Bliksem vir die Universiteit van Stellenbosch.
- ‘n Beeld van die legende, Daan Swiegers, vir die Universiteit van Pretoria.
- ‘n Beeld van die kunstenaar, Jo Roos, vir die Universiteit van Potchefstroom.
- Die beeld van Chris Barnard vir die Chris Barnard-Hartmuseum te Groote Schuur.
- Olieverf-portret van Danie Craven vir die Suid-Afrikaanse Rugby Raad.
* Pierre Volschenk se kunswerke is in talle huise en kantore regoor Suid-Afrika ‘n trotse besitting.
* “Arm plaaskind met geen gekoopte speelgoed, liefde vir die natuur, oud-Pietie met ‘n gevestigde waardesisteem, ‘n ware inspirasie vir almal om hom – dit is Pierre Volschenk. “

Lt. Kol. Ted Strever
(1932 – 1934) Postuum
Vegvlieënier, oorlogsheld Tweede wêreldoorlog

Marina Van Eeden
(1948 – 1952)
Kampvegter vir Gestremdes
Hiermee word erkenning gegee aan ons Hoofdogter van 1952, wat haar op plaaslike-, nasionale- en internasionale vlak onderskei het as kampvegter vir die gestremde.
Vir meer as 53 jaar het sy haar lewe gewy aan hierdie eerbare roeping. Haar insette in die verband was en is steeds so omvangryk, dat daar tereg na haar verwys kan word as ons eie Moeder Theresa.
Sy druk haar stempel of as
- Stigter van die Verre Noord Kreupelsorg Vereeniging,
- Stigterslid van die Nuwe Horison Skool,
- Stigterslid van die Nuwe Horison Koshuise in Hans van Rensburgstraat
- Stigterslid van die eerste Werksklub vir gestremdes en
- Stigterslid van Eeufeeshuis en die Trix Nortman Werkswinkel.
Sy is teenwoordig by:
- ‘n simposium getiteld “National Society for Handicapped children” (1974, London)
- ‘n internasionale Multi-sklerose Simposium (1978, Amsterdam)
Sy ontvang:
- ‘n Eerbewys en Sertifikaat van waardering van die Verre Noord Kreupelsorg,
- ‘n “Sarie”-toekenning as finalis in die kategorie: Gemeenskapdiens en Vrou met Styl
- ‘n Lions International-toekenning: “Citizen of the Year Award”
- Die hoogste Internasionale Rotarier-toekenning nl. Die Paul Harris Fellowship vir uitmuntende gemeenskapdiens.
Uit haar pen:
In opdrag van die Mediese Vereniging van Suid-Afrika, skryf sy ‘n boek oor die geskiedenis van hul Soutpansberg-tak.
- In opdrag van die Uitvoerende Komitee van Persone met Gestremdhede, stel sy die geskiedenis van die organisasie saam.
In die woorde van die bekende Jack Botes: “Sy is die Verre Noorde se voorste Gemeenskaps Aristokraat”.
Met hierdie oorkonde word erkenning gegee aan Marina van Eeden by uitstek ‘n onbaatsugtige dienaar van haar gemeenskap.
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van die Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 30 Augustus 2013, te Hoërskool Pietersburg.

Prof. Hannes Eloff
(1930 – 1934) Postuum
Departementshoof, Fakulteit Argeologie Universiteit van Pretoria
Hiermee word erkenning gegee aan Johannes Frederik Eloff, gebore op 24 Mei 1918, op die plaas Blinkwater, naby Munnik. Hy matrikuleer in 1934 (toe 16 jaar oud) aan die Hoërskool Pietersburg, kwalifiseer hom daarna as onderwyser en betree die opvoedkunde wêreld op die die ouderdom van 19.
Deur buitemuurse studie behaal by sy BA-graad aan die Universiteit van Pretoria (UP) en word in dieselfde tyd gekroon as die SA Universiteite swaargewig-bokskampioen en aangewys as Ondervoorsitter van die Studenteraad vir Dagstudente.
As beroepsman:
1949 — Voltydse dosent aan die Departement van Antropologie, UP
1950 — Begin met navorsing by Mapungubwe, langs die Limpoporivier.
1957 — Besoek verskeie argeologiese terreine in Brittanje en Europa en neem deel aan opgrawings in Rome (Italië), Zimbabwe en Zambië.
1970 — Departementshoof en medeprofessor van Argeologie aan UP.
1971 — Volwaardige professor in Argeologie aan UP.
Hy was lid van:
Die Raad van Nasionale Gedenkwaardighede
Die Raad van Kultuurhistoriese en Opelugmuseum
Die Raad van die Transvaal Provinsiale Museum Dienste
Voorsitter van die Pilgrimsrus Ontwikkelings Kommissie
Die Komitee op Afrikaanse Studies vir die Raad vir Geesteswetenskaplike navorsing Akademie vir Wetenskap en Kuns
Hannes Eloff het hom beywer vir die vestiging van ‘n erfenis-wyse en bewaringsgesinde samelewing.
Sy baanbrekerswerk tussen 1968 en 1984 op die Greefswald-terrein te Mapungubwe en K2, word as sy belangrikste argeologiese bydrae beskou.
Met hierdie oorkonde word erkenning gegee aan Prof Hannes Eloff wat sy lewe gewys het aan die mens en sy kulturele erfenis en die pad gebaan het vir bydraes deur ‘n nuwe- generasie student, navorser en natuurbewaarder.
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van die Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 30 Augustus 2013, te Hoërskool Pietersburg.

Willem Roos
(1986 – 1990)
Stigter en besturende direkteur, Outsurance
PHS se uitnemende Entrepreneur
Hiermee word erkenning gegee aan Willem Roos, wat in 1990 as Hoofseun van Hoërskool Pietersburg met sewe onderskeidings gematrikuleer het.
Hy behaal erekleure in Akademie, Kultuur en Sport gedurende sy matriekjaar.
Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria en behaal in 1994 sy B.Com (Hons) met lof en kwalifiseer in 1999 as aktuaris.
Gedurende 1994 tot 1996 doseer hy as lektor aan die Universiteit van Pretoria.
Willem is in 1998 medestigter van die nuwe generasie direkte kort-termyn versekeringsmaatskappy, OUTsurance.
In 2001 word hy aangestel as besturende direkteur van OUTsurance.
Die Universiteit van Pretoria bekroon hom in 2006 met die Laureaat toekenning.
In 2009 verower hy die Suid-Afrikaanse deel van die “Ernst & Young World Best Entrepreneur” kompetisie.
Willem word in 2014 genooi om by die Raad van Endeuvor Suid-Afrika, aan te sluit.
Willem dien ook op verskeie hoe profiel rade van die versekeringsbedryf.
Met hierdie oorkonde word erkenning gegee aan Willem Roos, wat as entrepreneur ongekende hoogtes bereik het en steeds bereik. Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van die Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 29 Augustus 2014.

Prof. Pieter Pistorius
(1935 – 1938) Postuum
Bekroonde Skrywer “PG Hendriks”, Universiteit van Wes-Kaapland
PHS se Akademikus en Skrywer
Pieter Pistorius is op 19 September 1920 te Renosterpoort in die Waterberg distrik gebore
Akademiese prestasies:
Hy matrikuleer in 1938 aan die Hoërskool Pietersburg, waarna by hom aan die Pretoriase Onderwyskollege en die Universiteit van Pretoria as Onderwyser bekwaam.
Deur voortgesette buitemuurse studies behaal hy verskeie nagraadse kwalifikasies.
Na verskeie jare as onderwyser word hy later hoof van die Opvoedkunde Departement aan die Potchefstroomse Onderwyskollege.
Vanaf 1970 tot met sy aftrede in 1981 is by Professor in Sosio pedagogiek aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
Pieter Pistorius as skrywer:
Onder die skuilnaam PG Hendriks het by verskeie publikasies die lig laat sien.
Bekende werke is: Anna Rodolphus, Die Grys Koedoe, ‘n Koning vir die Volk, ‘n Tyd vir Oorlog, Werktuig van Adonai, Slangsteek en talle ander.
In 1970 word sy werk “Die Weg van ‘n Man” met die Eugene Marais prys van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon.
In 1973 word sy werk “’n Spyker vir Slypsteenkop” bekroon net die Jochem van Bruggen prys vir prosa.
So vestig by hom in die galery van skrywers soos Antjie Krog, Audrey Blignaut, Andre P Brink, Sheila Cussons, Ettienne van Heerden en ander.
Met hierdie oorkonde word erkenning gegee aan Pieter Pistorius, akademikus en skrywer by uitstek. Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van die Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 29 Augustus 2014.

Dr. Con Fauconnier
(1960 – 1964)
Bekroonde leier in die Suid-Afrikaanse Mynbedryf. SA se Baas van die jaar 2004
PHS se formidabele leier in die Suid-Afrikaanse Mynbedryf
Hiermee word erkenning gegee aan Con Fauconnier wat in 1964 aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer het.
Sy uitsonderlike loopbaan in die mynbedryf begin in 1966 waar hy by Anglo American Corporation, Gencor en JCI tot in 1995 werksaam was. In 1995 aanvaar hy die pos as Algemene Bestuurder, Besigheidsontwikkeling by Iscor en in 1999 word by die Besturende Direkteur van Iscor Mynbou.
In 2001 word by aangewys as Hoofuitvoerende Beampte van die nuutgestigte Kumba Resources Ltd en in 2006, met die notering van Exxaro Resources Ltd, word by Exxaro se Hoofuitvoerende Beampte tot en met sy aftrede in 2007. Tans is by Ereprofessor by die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria en ‘n Genoot by die Gordon Institute of Business Science.
Con Fauconnier het, en dien steeds, op verskeie rade:
Uitvoerende Raad van die Kamer van Mynwese waar by tussen 2003 en 2005 President was.
Genoot van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Mynbou en Metallurgie asook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Ingenieurswese.
Trustee van die Wêreld Natuurfonds (WWF) in Suid-Afrika.
Dr Fauconnier het vier grade in Mynbou-ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria behaal. Sy besondere kennis oor die beheer van ondergrondse vure in steenkoolmyne is vervat in sy doktorale verhandeling. Sy MBA is aan die Universiteit van Oregon in die VSA verwerf en hy voltooi ook die Strategiese Leierskap Program aan die Universiteit van Oxford. In 2004 is ‘n eredoktorsgraad in die Natuurwetenskappe deur die Universiteit van die Vrystaat aan hom toegeken. Hy ontvang ook in 1999 die Laureatus Toekenning van die Universiteit van Pretoria vir die bevordering van die belange van die Universiteit.
Hy is mede-outeur en redakteur van die publikasie Increased Underground Extraction of Coal. Uit sy pen verskyn meer as veertig artikels wat gepubliseer is of by kongresse, in sowel Suid-Afrika as in die buiteland, voorgehou is. In 2007 word hy deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Mynbou en Metallurgie vereer met die Brigadier Stokes gedenktoekenning, en in 2011 met ‘n Ere-Genootskap in die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika, beide toekennings vir ‘n leeftyd van uitstaande diens aan die mynbedryf.
Die ware menslikheid van Con Fauconnier word egter weerspieël in sy toekenning in 2004 as Suid-Afrika se Baas van die Jaar.
Met hierdie oorkonde word erkenning gegee aan dr. Con Fauconnier wat die hoogste sport in die Suid-Afrikaanse mynbestuur behaal het.
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van die Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 28 Augustus 2015, te Hoërskool Pietersburg.

Mnr GH Franz
(1921 – 1926) Postuum
Eerste Onderwyser by PHS (1921) en later streeksdirekteur van onderwys in Transvaal (1953)
PHS Se Baanbreker Onderwyser
Hiermee word erkenning gegee aan Gottfried Franz, Hoërskool Pietersburg se heel eerste onderwyser wat die hoogste sport in die Onderwys as beroep behaal het. Hy het hom ook later as veelsydige skrywer onderskei.
Gottfreid Franz het in 1919 as onderwyser aan TUKS (Transvaalse Universiteit Kollege) gekwalifiseer. Hy behaal sy BA-graad met Engels, Nederlands, Grieks, Latyn, Sielkunde en Logika as vakke.
Na die totstandkoming van die Hoërskool Pietersburg in Junie 1921, is hy as die eerste en enigste onderwyser aangestel. Hy het feitlik elke vak aangebied en het hom ook onderskei as ‘n goeie sportafrigter veral in rugby.
Gottfried Franz se bekwaamheid as onderwyser lei voorts daartoe dat hy aan die einde van 1926, op ‘n jeugdige ouderdom aangestel word as Inspekteur van Onderwys in die Vrystaat. In 1930 word hy deur die ou Transvaalse Onderwysdepartement aangestel as Inspekteur van Naturelle Onderwys. Teen 1947 was hy Hoofinspekteur van Naturelle Onderwys en in 1953 is hy aangestel as Streeksdirekteur van Swart Onderwys in Transvaal.
Erkenning is ook later aan hom verleen toe die GH Franz Hoërskool in Bochum na hom vernoem is.
Mnr GH Franz was ook ‘n veelsydige en vrugbare skrywer. Hy het meer as 20 boeke gepubliseer. Die uitmuntendheid van sy bydrae lê veral daarin dat hy in vier tale kon skryf: Engels, Afrikaans, Duits en Sotho. In Sotho het Franz in al drie vorms van die taal, d.w.s. Noord-Sotho, Suid-Sotho en Tswana werke gepubliseer.
Van sy bekendste werke was Moloisi, die Wyse (1942), Kobus (1956), Twee Wêrelde (1957) en vele ander.
GH Franz se positiewe invloed, liefde vir boeke, gesonde lewensuitkyk en begrip van die komplekse en noodsaaklike verhouding tussen swart en wit moes ‘n groot invloed op die leerlinge van PHS gehad het.
Met hierdie oorkonde word erkenning gegee aan mnr. G.H. Franz wat as PHS se baanbreker onderwyser diep spore in onderwysberoep sou trap.
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van die Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 28 Augustus 2015, te Hoërskool Pietersburg.

Esias Michael de Blanche
(1950 – 1954)
en Jakobus Francois de Blanche
(1959 – 1963)
Bekroonde en innoverende leiers in die Suid-Afrikaanse Bankwese

Dr Bertie Du Plessis
(1963 – 1967)
Uitsonderlike akademikus, sakeman, motiveringspreker, skrywer en kunstenaar

Joe Kaminer
(1947 – 1951)
Die eerste Springbok-rugbyspeler wat PHS opgelewer het

Barry Streicher
(1958 – 1962) Postuum
Bekroonde sakeman en Passievolle bees- en wildsboer

Retah (Pieterse) Mc Pherson
(1980 – 1984)
Mev. Suid-Afrika (2004), Motiveringspreker, bekroonde skrywer
Hiermee word erkenning gegee aan Retah Pieterse-McPherson wat in 1984 aan Hoërskool Pietersburg gematrikuleer het.
In 1987 kwalifiseer sy as skoonheidsterapeut aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie.
In 2004 word Retah Pieterse-Mcpherson as Mev Suid-Afrika gekroon. Die volgende kriteria word as maatstaf vir hierdie glanskompetisie gebruik:
- Goedversorgde voorkoms
- Stylvolle toonbeeld
- Intelligente, sterk, suksesvolle vrou met goeie kommunikasievaardighede
- Gesonde huwelik met goeie gesinsverhoudinge
- Rolmodel vir getroude vrouens
- Ambassadeur vir Suid-Afrika
Sedert 2004, na ‘n traumatiese motorongeluk, het Retah se besondere lewenskwaliteit waarmee sy internasionale erkenning verwerf het, sterk na yore getree.
As skrywer verwerf sy internasionale status met publikasies soos:
- ‘n Boodskap van Hoop
- ‘n Boodskap van Geloof
- My Alles vir Sy Liefde
- In die Troonkamer van God
- in Lig en Lewe
Haar werk, ‘n Boodskap van God, was dan ook vir twee jaar die New York Times se beste verkoper.
As motiveringspreker het Retah Pieterse-Mcpherson geen bekendstelling nodig nie.
Sy het verskeie motiveringsbyeenkomste toegespreek en gelei, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in lande soos Israel, Indonesië, Maleisie en die Verenigde State van Amerika.
Retah se lojaliteit teenoor PHS blyk uit die volgende opmerking wat sy gemaak het: “Ek is baie trots om ‘n Pietie te wees, en is dankbaar vir die geleentheid om deel te kon wees van so ‘n ongelooflike groep mense. Dankie vir die impak op my lewe.”
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 25 Julie 2018, te Hoërskool Pietersburg.

Prof. Koos van den Heever
(1956 – 1960) Postuum
Dekaan fakulteit Regte: Universiteit van die Noorde
Hiermee word erkenning gegee aan Jacobus Abraham van den Heever wat in 1960 aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer het.
Deur toegewyde studie aan verskeie universiteite behaal Koos van den Heever die volgende kwalifikasies: B luris, BA Honns, LLB en in 1984 ‘n LLD aan die Universiteit van Pretoria.
In sy roemryke loopbaan in die Regte het hy veral as akademikus uitgeblink en naam gemaak. Eers as lektor aan die Universiteit van die Noorde, toe as senior lektor aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat en daarna as professor aan die Universiteit van Fort Hare. Sedert 1977 het hy as professor, en vanaf 1986 as dekaan, van die Universiteit van die Noorde se Regsafdeling opgetree.
Professor Koos van den Heever se uitstaande akademiese bydrae tot die Regswese word vervat in meer as agtien publikasies. Deur sy toegewyde en noukeurige navorsing, oor veral aspekte van die toorkuns en die konflik tussen die inheemsregtelike tugbevoegdheid en die Suid-Afrikaanse strafreg, het hy ‘n uitsonderlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse Regswese gelewer.
Waardevolle insette is ook deur hom gelewer tydens twee Wêreldkongresse. Eers in 1989 aan die Universiteit van Edinburg in Skotland en ook in 1991 aan die Universiteit van Gottingen, Duitsland.
Professor Koos van den Heever het ook op verskeie professionele verenigings gedien en was ook lid van die Internasionale Balie raad.
In ons plaaslike gemeenskap sal ons hom onthou vir sy rol as voorsitter van die Vredeskomitee voor 1994, waartydens hy ‘n waardevolle bydrae gelewer het.
As leerling van Hoërskool Pietersburg sal ons hom altyd onthou as een van die skool se mees lojale oud-Pieties en ‘n geliefde lid van die uitsonderlike 1960-matriekgroep.
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 25 Julie 2018, te Hoërskool Pietersburg.

Adv. Willem Frederik van der Merwe
(1922 – 1925) Postuum
Bekende Advokaat en Skenker van die skool se eerste toekenning: Die Willie van die Merwe Prys

Janus Robberts
(1994 – 1997)
Uitsonderlike atletiekprestasies: Springbokatleet, Statebondkampioen en Olimpiese spele deelname.
Hiermee word erkenning gegee aan Janus Robberts wat in 1997 aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer het. Deur toegewyde en harde oefening behaal hy die volgende uitmuntende prestasies op die atletiekveld:
Atletiekprestasies op skool:
- In 1995 (Gr10): Goue medaljes in beide gewigstoot en diskus (So.17) by die SA- Skolekampioenskappe.
- In 1996 (Gr11): Goue medalje in beide gewigstoot en diskus (So.17) by die SA- Skolekampioenskappe asook ‘n nuwe SA- en Afrikarekord in gewigstoot.
- In 1997 (Gr12):
- Goue medaljes (gewigstoot en diskus) en ‘n nuwe rekord in gewigstoot by Pacific Schools Kampioenskappe.
- Goue medaljes (gewigstoot en diskus) en ‘n nuwe SA Junior rekord in gewigstoot by die SA Skole Kampioenskappe.
- ‘n Silwer medalje en ‘n nuwe Junior SA- en Afrikarekord in gewigstoot by die SA Senior Kampioenskappe.
- Goue medaljes (gewigstoot en diskus) en ‘n nuwe Junior SA- en Afrikarekord in gewigstoot by die Afrika Junior Kampioenskappe.
Atletiek sukses na skool:
- 1998 tot 2000: Goue medaljewenner en rekordhouer in gewigstoot en diskus by die SA Senior Kampioenskappe.
- 2000: Sewende by die Olimpiese Spele in Australië.
- 2001: Dubbele Afrika-rekordhouer in gewigstoot met ‘n afstand van 21.97m.
- 2002: Silwermedalje wenner by die Statebondspele in Engeland. Medaljewenner by die Afrikaspele in 2002, 2004, 2006 en 2008.
- 2004: In die finale rondte vir gewigstoot by die Olimpiese Spele.
- 2006: Goue medaljewenner by die Statebondspele in Australië.
Werksprestasie:
Janus woon tans in die Paarl waar hy ‘n Senior Makelaarskonsultant by die Liberty-groep is. In 2016 is Janus in New York deur Liberty (Life) aangewys as een van die Top 20 konsultante in die wêreld.
Met hierdie oorkonde word erkenning gegee aan Janus Robberts wat deur sy atletiek- en werkprestasies die leuse van sy Alma Mater “Per Aspera Ad Astra” ten volle uitgeleef het en steeds uitleef.
Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van die Hoërskool Pietersburg tydens ‘n seremonie gehou op 30 Augustus 2019 te Hoërskool Pietersburg.

Tienie Pritchard
(1953 – 1957)
Internasionaal erkende kunstenaar (Beeldhouer)
Hiermee word erkenning gegee aan Tienie Pritchard, as uitnemende Beeldhouer
- Tienie Pritchard is op 16 Junie 1938 op Soekmekaar gebore.
- Hy matrikuleer in 1957 aan die Hoërskool Pietersburg, waarna hy vir tien jaar in die Departement van Volkswelsyn werksaam is. Daarna studeer hy vir twee jaar aan die Pretoria Kunsskool onder Eugene Bouffa. Sedert 1968 is hy ‘n voltydse beeldhouer.
- Tienie Pritchard se belangstelling in die kunste neem hom op studietoere na die Verenigde State van Amerika, Groot Brittanje, Italië, Frankryk en Duitsland.
- As beeldhouer het Tienie Pritchard plaaslik en internasionaal naam gemaak. Sy kunswerke kan in Suid-Afrika gesien word en ook in die buiteland soos in die Royal Palace in Koeweit, die Oorlog gendenkmuseum in Delvillebos, Frankryk en in Toronto, Kanada. Verskeie publikasies het al oor Tienie Pritchard se werk verskyn, waarvan die omvangryke Tienie Pritchard, Sculptor of the Nude deur Elna Pritchard is en In the Footsteps of a Master, geredigeer deur Petro van der Westhuizen in opdrag van Legacy Underwriting Managers.
Talle solo en groep -uitstallings is verder met groot sukses deur hierdie oudleerder van Hoërskool Pietersburg gehou.
- Van Tienie Pritchard se bekendste beeldhouwerk in publieke ruimtes is die volgende:
- Die Lewensiklus beeldgroep, wat hom bekend gemaak het vir die Cibitas gebou van Benoni.
- Discovery of Gold oorspronklik opgerig in die Pioniergebou in Pietersburg – nou in die Tienie Pritchard Museum.
- Fountain of Waternypmphs by Forber Oord in Bela Bela
- Die 10 x 3 meter Paneel in Relief van die Tweede Wêreldoorlog in die Oorlog gedenkmuseum, Delvillebos, Frankryk
- Die 9 meter hoe George Harrison, ontdekker van goud op die Witwaterand, voor die Witwatersrand, voor die East Gate Mall in Johannesburg
- Impalas by die watergat by die ontvangskompleks in Skukuza, Kruger Nasionale Park
- Fontein van die Welwe in die Apbco gebou in Lynwood, Pretoria
- Die Oriënt Versameling van beeldhouwerke in die Tienie Delvillebos Museum op die gronde van die Oriënt Boutique Hotel
- Batseba op die gronde van die Oriënt Boutique Hotel
- Talle borsbeelde, o.a. Piet Joubert (Pietersburg), Johannes Joubert en Johan Rissik (Johannes), Eduard Bok (Boksburg), Generaal JBM Herzog (Uniegebou, Pretoria), Joseph Bosman (Volkskas Silverton) Kallie Den Haas, LUR (Warmbad)
- Met hierdie oorkondes werd erkenning gegee aan Tienie Pritchard wat deur sy skeppende kunste die leuse van Alma Mater “Per Aspera Ad Astra” ten volle uitgeleef het en steeds uitleef.
- Oorkonde toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van die Hoërskool Pietersburg tydens ʼn seremonie gehou op 30 Oktober 2020 in die Tienie Pritchard Museum op die gronde van die Oriënt boutique Hotel in Elandsfontein, Pretoria.

Grace Colvin
(1921 – 1924) Postuum
Ontwerper van Hoërskool Pietersburg se skoolwapen

Louis Scott
Korporatiewe bestuurder en voormalige adjunkhoof van Hoërskool Pietersburg

Attie Vermaak
(1954 – 1958)
Uitsonderlike gemeenskapsleier en administrateur van die stad Pietersburg/Polokwane
Voormalige hoof-uitvoerende beampte (stadsklerk) van die stad Pietersburg, wat as oudleerling van Pietersburg Hoërskool, besondere en uitsonderlike diens gelewer het op die plaaslike owerheidsterrein, sowel as op provinsiale-, nasionale- en internasionale terreine.
Hiermee word hulde gebring en erkenning gegee aan hierdie ongelooflike bestuurder en leier van die stad Pietersburg en sy bydra op ʼn aantal terreine naamlik:
- Op plaaslike owerheidsterrein, het hy die stad gelei en gedien. Dit sluit in die beplanning, ontwikkeling en voltooiing van die stadsplein. Hy tree as stigter van die Bosveld Jagters vereniging op asook die Pietersburg klub.
Attie Vermaak is dan ook die inisieerder, beplanner en hoofuitvoerende beampte van Pietersburg en lei die stadsraad met die verwerwing van stadstatus in 1992. Hy skep die beskrywing van Pietersburg as die “Totale Stad.”
Hy dien dan ook met onderskeiding op nasionale, provinsiale en plaaslike bestuursrade.
Internasionaal vestig hy hom as lid van die “International institute of Municipal clerks” waar hy gereeld referate lewer en lesings aanbied, met die tema “stadsbestuur tot voordeel van die belastingbetaler en inwoner”.
Hy is ‘n familieman by uitstek. Sowel sy oupa, pa, kinders en kleinkinders was leerlinge van PHS.
Hy verpersoonlik sy diensbaarheid en optrede die ideale Pietie.
Die oorkonde is toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerlinge van Hoërskool Pietersburg tydens die Gala-aand op 12 Augustus 2022 te Hoërskool Pietersburg.